Rigters - Judges
1 En toe die kinders van Israel weer doen wat verkeerd is in die oë van die HERE, het die HERE hulle oorgegee in die hand van die Filistyne, veertig jaar lank.
2 En daar was ‘n man uit Sórea, uit die geslag van die Daniete, met die naam van Manóag; en sy vrou was onvrugbaar en het geen kinders gehad nie.
3 Maar die Engel van die HERE het aan die vrou verskyn en vir haar gesê: Kyk, jy is onvrugbaar en het geen kinders gehad nie, maar jy sal swanger word en ‘n seun baar.
4 Neem jou dan nou tog in ag en drink geen wyn of sterk drank nie en eet niks wat onrein is nie.
5 Want kyk, jy sal swanger word en ‘n seun baar, en geen skeermes mag op sy hoof kom nie; want die seun sal van die moederskoot af ‘n nasireër van God wees, en hy sal Israel begin verlos uit die hand van die Filistyne.
6 Daarop kom die vrou in en spreek met haar man en sê: ‘n Man van God het na my gekom, en sy voorkoms was soos die voorkoms van die Engel van God, baie vreeslik; maar ek het Hom nie gevra waar Hy vandaan was nie, en sy naam het hy my nie meegedeel nie.
7 Maar Hy het vir my gesê: Kyk, jy sal swanger word en ‘n seun baar; drink dan nou geen wyn of sterk drank nie, en eet niks wat onrein is nie; want die seun sal ‘n nasireër van God wees van die moederskoot af tot die dag van sy dood toe.
8 En Manóag het tot die HERE gebid en gesê: Ag, Here, laat tog die man van God wat U gestuur het, nog ‘n keer na ons toe kom, dat hy ons kan leer hoe ons moet maak met die seun wat gebore sal word.
9 En God het geluister na die stem van Manóag, sodat die Engel van God nog ‘n keer na die vrou gekom het terwyl sy in die veld sit en haar man Manóag nie by haar was nie.
10 En die vrou het haastig geloop en haar man dit vertel en vir hom gesê: Kyk, die man het aan my verskyn wat die ander dag na my gekom het.
11 Toe staan Manóag op en loop agter sy vrou aan, en hy kom by die man en vra hom: Is U die man wat met dié vrou gespreek het? Toe sê Hy: Ja.
12 Daarop vra Manóag: As u woorde nou uitkom, wat moet die leefwyse en die werk van die seun wees?
13 Toe sê die Engel van die HERE aan Manóag: Vir alles wat Ek aan die vrou gesê het, moet sy haar in ag neem.
14 Van alles wat van die wingerdstok afkomstig is, mag sy nie eet nie; en geen wyn of sterk drank moet sy drink nie en niks eet wat onrein is nie; alles wat Ek haar beveel het, moet sy onderhou.
15 Manóag sê aan die Engel van die HERE: Laat ons U tog ophou, dat ons ‘n bokkie vir U kan berei.
16 En die Engel van die HERE antwoord Manóag: Al hou jy My op, Ek sal nie van jou brood eet nie; maar as jy ‘n brandoffer wil berei, offer dit dan aan die HERE. Want Manóag het nie geweet dat dit die Engel van die HERE was nie.
17Daarop vra Manóag die Engel van die HERE: Wat is u naam, dat ons U kan vereer as u woord uitkom?
18En die Engel van die HERE sê vir hom: Waarom vra jy dan na my naam terwyl hy wonderbaar is?
19Toe neem Manóag die bokkie en die spysoffer en offer dit op die rots aan die HERE terwyl Hy wonderbaarlik handel voor die oë van Manóag en sy vrou:
20toe die vlam van die altaar opstyg na bo, het die Engel van die HERE in die vlam van die altaar opgevaar; en Manóag en sy vrou het dit gesien en met hulle aangesig op die grond geval.
21En die Engel van die HERE het verder nie meer aan Manóag en sy vrou verskyn nie. Daarop bemerk Manóag dat dit die Engel van die HERE was.
22En Manóag sê vir sy vrou: Ons sal sekerlik sterwe, omdat ons God gesien het.
23Maar sy vrou sê vir hom: As die HERE ons wou laat sterwe, sou Hy nie uit ons hand ‘n brandoffer en ‘n spysoffer aangeneem en ons al hierdie dinge laat sien en ons nou sulke dinge laat hoor het nie.
24En die vrou het ‘n seun gebaar en hom Simson genoem; en die kind het groot geword, en die HERE het hom geseën.
25En die Gees van die HERE het hom begin drywe in die laer van Dan tussen Sórea en Estáol.