Home |  | Audio |  | Index |  | Verses

Esegiël - Ezekiel

Chapter: 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48

1 En in die sewende jaar, in die vyfde maand, op die tiende van die maand, het daar manne uit die oudstes van Israel gekom om die HERE te raadpleeg; en hulle het voor my gaan sit.
2 Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
3 Mensekind, spreek met die oudstes van Israel en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Kom julle om My te raadpleeg? So waar as Ek leef, gewis, Ek laat my deur julle nie raadpleeg nie, spreek die Here HERE.
4 Wil jy hulle oordeel, wil jy oordeel, mensekind? Maak hulle dan die gruwels van hulle vaders bekend,
5 en sê aan hulle: So spreek die Here HERE: Die dag toe Ek Israel uitverkies het, het Ek my hand opgehef vir die geslag van die huis van Jakob en My aan hulle bekend gemaak in Egipteland; ja, Ek het my hand vir hulle opgehef en gesê: Ek is die HERE julle God.
6 Op dié dag het Ek my hand vir hulle opgehef, om hulle uit Egipteland uit te lei na ‘n land wat Ek vir hulle uitgesoek het, wat oorloop van melk en heuning—’n sieraad is dit van al die lande.
7 En Ek het aan hulle gesê: Gooi weg, elkeen die verfoeisels van sy oë, en verontreinig julle nie met die drekgode van Egipte nie: Ek is die HERE julle God.
8 Maar hulle was wederstrewig teen My en wou na My nie luister nie; niemand het die verfoeisels van sy oë weggegooi of die drekgode van Egipte laat staan nie. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet, om my toorn teen hulle te laat uitwoed in Egipteland.
9 Maar Ek het gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies onder wie hulle gewees het nie, voor wie se oë Ek My bekend gemaak het aan hulle, om hulle uit Egipteland uit te lei.
10 En Ek het hulle uit Egipteland uitgelei en hulle in die woestyn gebring.
11 En Ek het hulle my insettinge gegee en my verordeninge aan hulle bekend gemaak, wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe.
12 Daarby het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om ‘n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die HERE, is wat hulle heilig.
13 Maar die huis van Israel was wederstrewig teen My in die woestyn; hulle het nie in my insettinge gewandel nie en my verordeninge verwerp, wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe; en my sabbatte het hulle baie ontheilig. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet in die woestyn om hulle te vernietig.
14 Maar Ek het gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgelei het nie.
15 So het Ek dan ook my hand vir hulle opgehef in die woestyn, dat Ek hulle nie sou bring in die land wat Ek aan hulle gegee het nie, wat oorloop van melk en heuning—’n sieraad is dit van al die lande;
16 omdat hulle my verordeninge verwerp het en in my insettinge nie gewandel het nie en my sabbatte ontheilig het; want hulle hart het agter hul drekgode aan geloop.
17Maar my oog het hulle verskoon, sodat Ek hulle nie verdelg het nie en geen einde aan hulle gemaak het in die woestyn nie.
18Maar Ek het aan hulle kinders in die woestyn gesê: Wandel nie in die insettinge van julle vaders nie en onderhou nie hulle verordeninge nie en verontreinig julle nie met hulle drekgode nie.
19Ek is die HERE julle God; wandel in my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit.
20En heilig my sabbatte; en hulle sal ‘n teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat Ek die HERE julle God is.
21Maar die kinders was wederstrewig teen My: hulle het nie gewandel in my insettinge en my verordeninge nie onderhou om dit te doen nie—wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe; hulle het my sabbatte ontheilig. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet, om my toorn te laat uitwoed teen hulle in die woestyn.
22Maar Ek het my hand teruggetrek en gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgelei het nie.
23Tog het Ék my hand vir hulle opgehef in die woestyn, dat Ek hulle sal versprei onder die nasies en hulle sal verstrooi in die lande;
24omdat hulle my verordeninge nie gehou het nie, maar my insettinge verwerp het en my sabbatte ontheilig het en hulle oë agter die drekgode van hulle vaders aan was.
25So het Ék dan ook aan hulle insettinge gegee wat nie goed was nie, en verordeninge waardeur hulle nie sou lewe nie.
26En Ek het hulle verontreinig deur hulle offergawes, omdat hulle deur die vuur laat deurgaan het alles wat die moederskoot open; sodat Ek hulle kon vernietig, dat hulle sou weet dat Ek die HERE is.
27Daarom, mensekind, spreek met die huis van Israel en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Verder het julle vaders My in hierdie saak smaadheid aangedoen, dat hulle troubreuk teen My begaan het:
28toe Ek hulle in die land gebring het waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan hulle te gee, het hulle uitgekyk na al die hoë heuwels en al die digte bome, en hulle het daar hul offers geslag en daar hul aanstootlike offergawe gegee en daar hul lieflike offergeur gebring en daar hul drankoffers uitgegiet.
29Toe het Ek aan hulle gesê: Wat is dit vir ‘n hoogte waarheen julle gaan? En hulle het dit Hoogte genoem tot vandag toe.
30Daarom, sê aan die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Wat? Julle is verontreinig in die weg van julle vaders, en julle hoereer agter hulle verfoeisels aan;
31ja, deur die aanbieding van julle offergawes, deur julle seuns deur die vuur te laat gaan, is julle verontreinig met al jul drekgode tot vandag toe—en sou Ek My deur julle laat raadpleeg, o huis van Israel? So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, Ek laat My deur julle nie raadpleeg nie!
32En wat in julle gees opgeklim het, sal sekerlik nie gebeur nie—dat julle sê: Ons wil soos die nasies, soos die geslagte van die lande wees, deur hout en klip te dien.
33So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, Ek sal gewis met ‘n sterke hand en met ‘n uitgestrekte arm en met uitgestorte grimmigheid oor julle regeer.
34En Ek sal julle uit die volke uitlei en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, deur ‘n sterke hand en deur ‘n uitgestrekte arm en deur uitgestorte grimmigheid.
35En Ek sal julle bring in die woestyn van die volke, en Ek sal daar met julle in die gerig tree van aangesig tot aangesig.
36Soos Ek met julle vaders in die woestyn van Egipteland in die gerig getree het, so sal Ek met julle in die gerig tree, spreek die Here HERE.
37En Ek sal julle onder die herderstaf laat deurgaan en julle bring in die band van die verbond.
38En Ek sal uit julle afsonder die wat opstandig is en teen My oortree; Ek sal hulle uit die land van hul vreemdelingskap uitlei, maar hulle sal in die land van Israel nie kom nie; en julle sal weet dat Ek die HERE is.
39Maar julle, o huis van Israel, so sê die Here HERE: Gaan weg en dien elkeen sy drekgode; maar hierná—sekerlik sal julle na My luister en my heilige Naam nie meer ontheilig met julle offergawes en julle drekgode nie.
40Want op my heilige berg, op die verhewe berg van Israel, spreek die Here HERE, daar sal die hele huis van Israel, hulle almal, My dien in die land; daar sal Ek ‘n behae in hulle hê en daar sal Ek julle offergawes eis en die eerstelinge van julle aanbiedinge by al julle heilige gawes.
41As ‘n lieflike geur sal Ek ‘n behae in julle hê wanneer Ek julle uit die volke uitlei en julle uit die lande versamel waarin julle verstrooi was, en Ek sal My in julle as die Heilige laat ken voor die oë van die nasies.
42En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek julle in die land van Israel bring, in die land waar Ek my hand oor opgehef het om dit aan julle vaders te gee.
43Daar sal julle dan dink aan julle weë en al julle handelinge waarmee julle jul verontreinig het, en julle sal vir julself walglik wees vanweë al jul slegte dinge wat julle gedoen het.
44En julle sal weet dat Ek die HERE is as Ek met julle handel ter wille van my Naam en nie volgens julle verkeerde weë of julle verdorwe handelinge nie, o huis van Israel, spreek die Here HERE.
45Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
46Mensekind, rig jou aangesig na die suide en laat jou rede druppel teen die suide en profeteer teen die bosveld, die Suidland,
47en sê aan die bos van die Suidland: Hoor die woord van die HERE: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek steek ‘n vuur in jou aan wat in jou elke groen boom en elke droë boom sal verteer; die uitslaande vlam sal nie uitgeblus word nie, maar daardeur sal alle aangesigte verbrand word van die Suidland af tot die noorde toe;
48en alle vlees sal sien dat Ek, die HERE, dit aangesteek het; dit sal nie uitgeblus word nie.
49Toe sê ek: Ag, Here HERE, hulle sê vir my: Spreek hy nie altyd in gelykenisse nie?

Top |  | Next Chapter  |  | Index |  | Home
Full online version here [with search engine, multilingual display and audio Bible]