Lukas - Luke
1 En nadat Hy voor die ore van die volk al sy woorde beëindig het, het Hy in Kapérnaüm ingegaan.
2 En die dienskneg van ‘n sekere hoofman oor honderd, wat vir hom baie werd was, was ongesteld en het op sterwe gelê.
3 Toe hy dan van Jesus hoor, het hy ouderlinge van die Jode na Hom gestuur met die versoek aan Hom dat Hy moes kom en sy dienskneg gesond maak.
4 En toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend gesmeek en gesê: Hy is dit werd dat U dit vir hom doen;
5 want hy het ons volk lief en het self die sinagoge vir ons gebou.
6 En Jesus het saam met hulle gegaan; maar toe Hy nie meer ver van die huis af was nie, stuur die hoofman oor honderd vriende na Hom om vir Hom te sê: Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie.
7 Daarom het ek my ook nie waardig geag om na U te gaan nie; sê dit maar met ‘n woord, en my kneg sal gesond word.
8 Want ek is ook ‘n man wat aan gesag onderworpe is, en ek het soldate onder my; en vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir ‘n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit.
9 Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonderd, en Hy draai Hom om en sê vir die skare wat Hom volg: Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so ‘n groot geloof nie gevind nie.
10 En toe die wat gestuur was, teruggaan na die huis, vind hulle die siek dienskneg gesond.
11 En die dag daarna was Hy op weg na ‘n stad met die naam van Nain; en baie van sy dissipels en ‘n groot menigte het saam met Hom gegaan.
12 En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net ‘n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was ‘n weduwee; en ‘n groot menigte van die stad was by haar.
13 En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie!
14 En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op!
15 En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee.
16 En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: ‘n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek.
17En hierdie woord aangaande Hom het uitgegaan in die hele Judéa en in die hele omtrek.
18En die dissipels van Johannes het hom van al hierdie dinge berig gebring.
19En Johannes het sekere twee van sy dissipels na hom geroep en hulle na Jesus gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?
20En toe die manne by Hom kom, sê hulle: Johannes die Doper het ons na U gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?
21En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk.
22En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.
23En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.
24En nadat die boodskappers van Johannes weggegaan het, begin Hy vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan in die woestyn om te aanskou? ‘n Riet wat deur die wind beweeg word?
25Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ‘n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat pragtige klere dra en in weelde lewe, is in die paleise.
26Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ‘n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, nog baie meer as ‘n profeet!
27Dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak.
28Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van God is groter as hy.
29En toe die hele volk en die tollenaars dit hoor, het hulle God geregverdig deur hulle te laat doop met die doop van Johannes.
30Maar die Fariseërs en die wetgeleerdes het die raad van God aangaande hulle verwerp deur hulle nie deur hom te laat doop nie.
31Toe sê die Here: Waarmee sal Ek dan die mense van hierdie geslag vergelyk, en waaraan is hulle gelyk?
32Hulle is net soos kinders wat op die mark sit en na mekaar roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle ‘n klaaglied gesing, en julle het nie gehuil nie.
33Want Johannes die Doper het gekom en het nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: Hy het ‘n duiwel.
34Die Seun van die mens het gekom en Hy eet en drink, en julle sê: Daar is ‘n mens wat ‘n vraat en ‘n wynsuiper is, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.
35Maar die wysheid is geregverdig deur al sy kinders.
36En een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te eet; en Hy het in die huis van die Fariseër gekom en aan tafel gegaan.
37En toe ‘n vrou in die stad, wat ‘n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy ‘n albaste fles met salf gebring
38en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf.
39Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy ‘n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ‘n sondares.
40En Jesus antwoord en sê vir hom: Simon, Ek het iets om aan jou te sê. En hy antwoord: Meester, spreek.
41Hy sê toe: ‘n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyf honderd pennings geskuld en die ander een vyftig;
42en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê?
43En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel dié een aan wie hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel.
44Daarop draai Hy om na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom—water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog.
45‘n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie.
46Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf.
47Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.
48En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe.
49Toe begin die wat aan tafel was, by hulleself te sê: Wie is hierdie man wat selfs die sondes vergewe?
50En Hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.