1 Timoteus - 1 Timothy
1 ‘n Bejaarde man moet jy nie hard bestraf nie, maar vermaan hom soos ‘n vader, jongeres soos broers,
2 bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid.
3 Eer die weduwees wat waarlik weduwees is.
4 Maar as ‘n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God.
5 En sy wat waarlik weduwee is en alleen gelaat is, hoop op God en bly in smekinge en gebede nag en dag.
6 Maar sy wat losbandig is, is lewendig dood.
7 Beveel ook hierdie dinge, sodat hulle onberispelik kan wees.
8 Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ‘n ongelowige.
9 Laat ‘n weduwee gekies word, nie minder as sestig jaar oud nie, wat die vrou van een man gewees het
10 en getuienis het van goeie werke, as sy kinders grootgemaak het, gasvry gewees het, die voete van die heiliges gewas het, verdruktes gehelp en elke goeie werk nagestreef het.
11 Maar jy moet die jong weduwees afwys; want wanneer hulle tot oneer van Christus wellustig word, wil hulle trou
12 en kom onder ‘n oordeel, omdat hulle hul eerste geloof verwerp het.
13 En tegelykertyd leer hulle ook om ledig by die huise rond te gaan; en nie alleen is hulle ledig nie, maar ook praatsiek en bemoeisiek, want hulle praat wat nie behoorlik is nie.
14 Ek wil dan hê dat die jong weduwees moet trou, kinders baar, hulle huise regeer en die teëparty geen aanleiding gee om kwaad te spreek nie.
15 Want sommige het al afgewyk agter die Satan aan.
16 As ‘n gelowige man of ‘n gelowige vrou weduwees by hulle het, moet dié aan hulle hulp verleen; en laat die gemeente nie beswaar word nie, sodat dit die wat waarlik weduwees is, kan help.
17Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer.
18Want die Skrif sê: Jy mag ‘n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd.
19Moenie ‘n beskuldiging teen ‘n ouderling aanneem nie, behalwe op die getuienis van twee of drie.
20Bestraf die wat sondig, in die teenwoordigheid van almal, sodat ook die ander kan vrees.
21Ek besweer jou voor God en die Here Jesus Christus en die uitverkore engele dat jy hierdie dinge sonder vooroordeel in ag neem en niks uit partydigheid doen nie.
22Moenie haastig iemand die hande oplê nie, en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein.
23Moenie langer water alleen drink nie, maar gebruik ‘n bietjie wyn ter wille van jou maag en jou herhaalde ongesteldhede.
24Die sondes van sommige mense is baie duidelik en gaan voor hulle uit tot die oordeel, maar volg ander eers agterna.
25Net so is ook die goeie werke baie duidelik, en ook die wat anders is, kan nie weggesteek word nie.