2 Samuel
1 En daarna het Absalom vir hom ‘n wa en perde aangeskaf en vyftig man om voor hom uit te loop.
2 Verder het Absalom gereeld vroeg opgestaan en langs die pad na die poort gaan staan; en Absalom het elkeen wat ‘n saak gehad het om na die koning te kom vir regspraak, aangeroep en gesê: Uit watter stad is jy? As hy dan antwoord: U dienaar is uit een van die stamme van Israel—
3 dan sê Absalom vir hom: Kyk, jou saak is goed en reg, maar van die koning se kant sal niemand jou gehoor gee nie.
4 Verder het Absalom gesê: Mag hulle my as regter in die land aanstel, dat elkeen wat ‘n geskil of regsaak het, na my kan kom; dan sal ék aan hom reg laat geskied.
5 En elke keer as iemand nader kom om voor hom te buig, steek hy sy hand uit en gryp hom en soen hom.
6 Op dié manier het Absalom met al die Israeliete gehandel wat vir regspraak na die koning kom, sodat Absalom die hart van die manne van Israel gesteel het.
7 En ná verloop van vier jaar het Absalom aan die koning gesê: Laat my tog gaan en my gelofte wat ek aan die HERE gedoen het, in Hebron betaal;
8 want u dienaar het ‘n gelofte gedoen toe ek in Gesur in Aram gewoon het, en gesê: As die HERE my werklik in Jerusalem terugbring, sal ek die HERE dien.
9 Toe sê die koning vir hom: Gaan in vrede! En hy het hom klaargemaak en na Hebron gegaan.
10 Verder het Absalom spioene uitgestuur onder al die stamme van Israel om te sê: As julle die geluid van die ramshoring hoor, moet julle sê: Absalom is koning in Hebron!
11 En uit Jerusalem het twee honderd man met Absalom saamgetrek wat genooi was en in hulle onskuld gegaan het sonder dat hulle van die hele saak iets geweet het.
12 Absalom het ook, terwyl hy die slagoffers bring, Agitófel, die Giloniet, ‘n raadgewer van Dawid, uit sy stad, uit Gilo, laat roep. So het dan die sameswering sterk geword en die mense aldeur meer by Absalom aangesluit.
13 Toe daar dan ‘n boodskapper by Dawid kom en sê: Die hart van die manne van Israel is agter Absalom aan—
14 het Dawid aan al sy dienaars wat by hom in Jerusalem was, gesê: Maak klaar en laat ons vlug, want daar sal vir ons geen ontkoming wees voor Absalom uit nie! Maak gou om weg te kom, sodat hy ons nie miskien gou inhaal en onheil oor ons bring en die stad met die skerpte van die swaard verslaan nie.
15 En die dienaars van die koning sê vir die koning: Net soos my heer die koning verkies—hier is u dienaars!
16 En die koning het uitgegaan met sy hele huis agter hom aan, maar die koning het tien byvroue agter laat bly om die huis op te pas.
17En toe die koning met al die mense agter hom aan uitgetrek het, het hulle bly staan by die verste huis,
18onderwyl al sy dienaars langs hom verbytrek, ook al die Kreti en al die Pleti. Ook al die Gittiete, ses honderd man wat uit Gat agter hom aan gekom het, het voor die koning verbygetrek.
19En die koning sê vir Ittai, die Gittiet: Waarvoor sou jy ook met ons saamgaan? Draai om en bly by die koning, want jy is ‘n uitlander en ook ‘n balling uit jou woonplek.
20Jy het gister gekom, en vandag sou ek jou laat rondswerwe om met ons saam te trek terwyl ek wie weet waarheen gaan! Draai om, en bring jou broers terug. Mag guns en trou met jou wees!
21Maar Ittai het die koning geantwoord en gesê: So waar as die HERE leef en my heer die koning leef, voorwaar, op die plek waar my heer die koning sal wees vir dood of vir lewe, daar sal u dienaar sekerlik ook wees!
22Toe sê Dawid vir Ittai: Gaan, trek dan verby! En Ittai, die Gittiet, het verbygetrek met al sy manne en al die kinders wat by hom was.
23En die hele land het hardop gehuil terwyl al die mense verbytrek; en die koning het deur die spruit Kidron getrek; en al die mense het deurgetrek op pad na die woestyn.
24En kyk, Sadok was ook daar, en al die Leviete by hom wat die verbondsark van God dra, en hulle het die ark van God neergesit—Abjatar het ook opgetrek—totdat al die mense uit die stad tot die laaste toe deurgetrek het.
25Toe sê die koning vir Sadok: Bring die ark van God terug in die stad. As ek genade vind in die oë van die HERE, sal Hy my terugbring, en Hy sal my dit en sy woning laat sien.
26Maar as Hy so sê: Ek het in jou geen behae nie—hier is ek! Laat Hy met my doen soos goed is in sy oë.
27Verder het die koning aan die priester Sadok gesê: U is tog siener? Gaan in vrede na die stad terug, en julle twee seuns, Ahímaäs, jou seun, en Jónatan, die seun van Abjatar, met julle saam.
28Kyk, ek vertoef by die woestyndriwwe totdat daar ‘n woord van julle kom om my in te lig.
29En Sadok en Abjatar het die ark van God teruggebring na Jerusalem en daar gebly.
30En Dawid het die hoogte van die olywe opgeklim, terwyl hy aldeur loop en ween; en sy hoof was bedek, en hy het kaalvoet geloop; en al die mense wat by hom was, hulle het elkeen sy hoof bedek en opgegaan en aldeur geween.
31Nadat aan Dawid meegedeel is: Agitófel is onder die samesweerders met Absalom saam, het Dawid gesê: o HERE, verydel tog die raad van Agitófel!
32En toe Dawid tot bo-op die top kom, waar hulle God aanbid het, ontmoet Húsai, die Arkiet, hom daar, met geskeurde rok en grond op sy hoof.
33En Dawid sê vir hom: As jy saam met my verder gaan, sal jy my tot ‘n las wees.
34Maar as jy teruggaan na die stad en vir Absalom sê: U dienaar, o koning, wil ek wees; tevore was ek wel u vader se dienaar, maar nou is ek u dienaar—dan kan jy vir my die raad van Agitófel verydel.
35En is die priesters Sadok en Abjatar nie daar saam met jou nie? Alles wat jy dan hoor uit die huis van die koning, moet jy aan Sadok en Abjatar, die priesters, te kenne gee.
36Kyk, hulle twee seuns is daar by hulle, Ahímaäs van Sadok en Jónatan van Abjatar, en deur hulle moet julle alles wat julle verneem, aan my laat weet.
37Daarop het Húsai, die vriend van Dawid, in die stad gekom, terwyl Absalom aankom na Jerusalem.