2 Konings - 2 Kings
1 En toe die HERE Elía in ‘n storm na die hemel sou opneem, het Elía met Elísa uit Gilgal uitgegaan.
2 En Elía het vir Elísa gesê: Bly tog hier, want die HERE stuur my na Bet-el. Maar Elísa het gesê: So waar as die HERE leef en u siel leef, ek sal u nie verlaat nie! En hulle het na Bet-el afgegaan.
3 Toe gaan die profete-seuns wat in Bet-el was, na Elísa uit en vra hom: Weet u dat die HERE vandag u heer van u hoof sal wegneem? En hy antwoord: Ek weet dit ook; bly stil.
4 En Elía sê vir hom: Elísa, bly tog hier, want die HERE stuur my na Jérigo. Maar hy sê: So waar as die HERE leef en u siel leef, ek sal u nie verlaat nie! En hulle het in Jérigo aangekom.
5 Daarop kom die profete-seuns wat in Jérigo was, na Elísa toe aan en vra hom: Weet u dat die HERE vandag u heer van u hoof sal wegneem? En hy antwoord: Ek weet dit ook; bly stil.
6 En Elía sê vir hom: Bly tog hier, want die HERE stuur my na die Jordaan. Maar hy sê: So waar as die HERE leef en u siel leef, ek sal u nie verlaat nie! En hulle twee het gegaan.
7 En vyftig man van die profete-seuns het geloop en op ‘n afstand eenkant gestaan, terwyl hulle twee by die Jordaan staan.
8 Toe neem Elía sy mantel en rol dit op en slaan op die water; en dit is na weerskante verdeel, sodat hulle twee op droë grond deurgegaan het.
9 En nadat hulle deur was, sê Elía vir Elísa: Begeer wat ek vir jou moet doen, voordat ek van jou af weggeneem word. En Elísa antwoord: Laat dan tog ‘n dubbele deel van u gees op my kom.
10 En hy sê: Jy het ‘n harde saak begeer. As jy my sien wanneer ek van jou af weggeneem word, laat dit dan so met jou wees. Maar so nie, dan sal dit nie wees nie.
11 En terwyl hulle aldeur loop en spreek, kom daar meteens ‘n wa van vuur met perde van vuur wat skeiding tussen hulle twee maak; en Elía het in die storm na die hemel opgevaar.
12 En Elísa het dit gesien en geroep: My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters! En toe hy hom nie meer sien nie, het hy sy klere gegryp en dit in twee stukke geskeur.
13 Daarna tel hy die mantel van Elía op wat van hom afgeval het, en hy draai om en gaan op die wal van die Jordaan staan;
14 en hy neem die mantel van Elía wat van hom afgeval het, en slaan op die water en sê: Waar is die HERE, die God van Elía, ja, Hy? En toe hy op die water slaan, is dit na weerskante verdeel, en Elísa het deurgegaan.
15 En die profete-seuns wat in Jérigo was, het dit op ‘n afstand gesien en gesê: Die gees van Elía rus op Elísa! En hulle het hom tegemoetgekom en voor hom na die aarde gebuig
16 en vir hom gesê: Kyk, hier is by u dienaars vyftig kragtige manne; laat hulle tog u heer gaan soek, of nie miskien die Gees van die HERE hom opgeneem en hom op een van die berge of in een van die dale gewerp het nie. Maar hy het beveel: Stuur hulle nie!
17Maar toe hulle tot vervelens toe by hom aanhou, sê hy: Stuur. Daarop stuur hulle vyftig man uit, en dié het drie dae lank gesoek, maar hom nie gekry nie.
18En hulle het na hom teruggekeer terwyl hy nog in Jérigo vertoef; en hy vra hulle: Het ek julle nie gesê: Moenie gaan nie?
19En die manne van die stad het vir Elísa gesê: Kyk, die ligging van die stad is goed soos my heer sien, maar die water is sleg, en die grond veroorsaak onvrugbaarheid.
20En hy antwoord: Bring vir my ‘n nuwe skottel en gooi daar sout in. En hulle het dit na hom gebring.
21Daarop gaan hy uit na die plek waar die water uitkom en gooi die sout daarin en sê: So spreek die HERE: Ek het dié water gesond gemaak; daar sal geen dood of onvrugbaarheid meer van kom nie.
22En die water het gesond geword tot vandag toe volgens die woord van Elísa wat hy gespreek het.
23En daarvandaan het hy opgegaan na Bet-el; en terwyl hy met die pad opgaan, kom daar klein seuntjies uit die stad uit wat met hom spot en vir hom sê: Gaan op, kaalkop! Gaan op, kaalkop!
24Toe het hy agter hom omgekyk en hulle gesien en hulle gevloek in die Naam van die HERE; en twee berinne het uit die bos gekom en van hulle twee en veertig kinders verskeur.
25En hy het daarvandaan na die berg Karmel gegaan en daarvandaan na Samaría teruggekom.