2 Konings - 2 Kings
1 Toe roep die profeet Elísa een van die profete-seuns en sê vir hom: Gord jou heupe en neem hierdie kruik met olie in jou hand en gaan na Ramot in Gílead.
2 As jy daar kom, kyk dan waar Jehu, die seun van Jósafat, die seun van Nimsi, is; en gaan in en laat hom opstaan onder sy broers uit en bring hom in ‘n binnekamer;
3 neem dan die kruik met olie en giet dit op sy hoof uit en sê: So spreek die HERE: Ek salf jou tot koning oor Israel. Maak dan die deur oop en vlug en vertoef nie.
4 En die jongman, die dienaar van die profeet, het gegaan na Ramot in Gílead.
5 Toe hy aankom, het die owerstes van die leër juis daar gesit; en hy sê: Ek het ‘n woord vir u, owerste. En Jehu vra: Vir wie van ons almal? En hy antwoord: Vir u, owerste!
6 En hy het opgestaan en in die huis ingegaan. Toe giet hy die olie op sy hoof uit en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van Israel: Ek salf jou as koning oor die volk van die HERE, oor Israel.
7 En jy sal die huis van Agab, jou heer, verwoes, sodat Ek die bloed van my knegte, die profete, en die bloed van al die knegte van die HERE op Isébel kan wreek;
8 en die hele huis van Agab sal omkom, en Ek sal van Agab uitroei al wat manlik is in Israel, sonder uitsondering.
9 Want Ek sal die huis van Agab maak soos die huis van Jeróbeam, die seun van Nebat, en soos die huis van Baésa, die seun van Ahía.
10 En die honde sal Isébel eet op die dorpsgrond van Jísreël, en daar sal niemand wees wat haar begrawe nie. Daarna het hy die deur oopgemaak en gevlug.
11 Daarop gaan Jehu uit na die dienaars van sy heer, en hulle sê vir hom: Gaan dit goed? Waarom het hierdie kranksinnige by u gekom? En hy antwoord hulle: Julle self ken die man en sy gepraat.
12 Maar hulle sê: Leuens! Vertel ons tog. En hy antwoord: So en so het hy met my gespreek en gesê: So spreek die HERE: Ek salf jou as koning oor Israel.
13 Toe neem hulle gou elkeen sy kleed en lê dit onder hom somaar op die trappe neer; en hulle blaas op die ramshoring en sê: Jehu is koning!
14 Daarop het Jehu, die seun van Jósafat, die seun van Nimsi, ‘n sameswering gesmee teen Joram. En Joram was besig om by Ramot in Gílead wag te hou, hy en die hele Israel, teen Hásael, die koning van Aram.
15 Intussen het koning Joram teruggegaan om hom in Jísreël te laat genees van die wonde wat die Arameërs hom toegebring het in die oorlog teen Hásael, die koning van Aram. En Jehu het gesê: As julle dit goedvind, laat geen vlugteling uit die stad uitgaan om dit in Jísreël te gaan vertel nie.
16 Toe klim Jehu op die strydwa en trek na Jísreël, want Joram het daar gelê; en Ahásia, die koning van Juda, het afgekom om Joram te besoek.
17En terwyl die wag op die toring in Jísreël staan, sien hy die skare van Jehu, terwyl hy aankom, en sê: Ek sien ‘n skare. Toe sê Joram: Neem ‘n ruiter en stuur hulle tegemoet, en laat hom vra: Is dit vrede?
18En die perderuiter het hom tegemoetgegaan en gesê: So vra die koning: Is dit vrede? Maar Jehu antwoord: Wat het jy met die vrede te doen? Volg my! En die wag het dit te kenne gegee en gesê: Die boodskapper het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie.
19Daarop stuur hy ‘n ander perderuiter; en toe dié by hulle kom, sê hy: So vra die koning: Is dit vrede? Maar Jehu antwoord: Wat het jy met die vrede te doen? Volg my!
20En die wag het dit te kenne gegee en gesê: Hy het tot by hulle gekom, maar hy kom nie terug nie. Maar die drywe is soos die drywe van Jehu, die seun van Nimsi, want hy dryf soos ‘n kranksinnige.
21Toe sê Joram: Span in. En hulle het sy wa ingespan; en Joram, die koning van Israel, het uitgetrek, en Ahásia, die koning van Juda, elkeen op sy wa—hulle het uitgetrek Jehu tegemoet en hom aangetref op die stuk grond van Nabot, die Jisreëliet.
22En net toe Joram Jehu sien, sê hy: Is dit vrede, Jehu? Maar hy antwoord: Wat? Vrede, solank as die hoererye van jou moeder Isébel en haar towerye so baie is?
23Toe ruk Joram om en vlug en sê vir Ahásia: Verraad, Ahásia!
24Maar Jehu het die boog gespan en Joram tussen sy arms geskiet, sodat die pyl deur sy hart uitgegaan en hy in sy wa inmekaargesak het.
25Daarop sê hy aan sy adjudant Bidkar: Tel op, gooi hom op die stuk grond van Nabot, die Jisreëliet; want onthou hoe ek en jy saam langs mekaar agter sy vader Agab gery het en die HERE oor hom hierdie uitspraak gegee het:
26Voorwaar, Ek het die bloed van Nabot en die bloed van sy seuns verlede nag gesien, spreek die HERE, en Ek sal dit aan jou vergelde op hierdie stuk grond, spreek die HERE. Tel dan nou op, gooi hom op die stuk grond volgens die woord van die HERE.
27Toe Ahásia, die koning van Juda, dit sien, het hy gevlug in die rigting van die tuinhuis; maar Jehu het hom agternagejaag en gesê: Skiet hom ook! En hulle het hom geskiet in die wa, op die hoogte na Gur by Jíbleam. Maar hy het na Megíddo gevlug en daar gesterwe.
28En sy dienaars het hom na Jerusalem vervoer en hom in sy graf by sy vaders begrawe in die stad van Dawid.
29En in die elfde jaar van Joram, die seun van Agab, het Ahásia koning oor Juda geword.
30En Jehu het in Jísreël gekom. Toe Isébel dit hoor, het sy haar oë swart geverf en haar hoof versier en deur die venster uitgekyk.
31Terwyl Jehu deur die poort inkom, sê sy: Gaan dit goed, Simri, moordenaar van jou heer?
32En hy het opgekyk na die venster en gevra: Wie is vir my, wie? Toe kyk twee, drie hofdienaars uit na hom;
33en hy sê: Gooi haar af! En hulle het haar afgegooi, sodat van haar bloed teen die muur en teen die perde gespat het, en hy het haar vertrap.
34En nadat hy ingegaan en geëet en gedrink het, sê hy: Kyk tog om na dié vervloekte en begrawe haar, want sy is ‘n koningsdogter.
35Maar toe hulle gaan om haar te begrawe, kry hulle van haar niks nie as net die hoofskedel en die voete en die handpalms.
36Daarop kom hulle terug en gee hom dit te kenne; en hy sê: Dit is die woord van die HERE wat Hy deur die diens van sy kneg Elía, die Tisbiet, gespreek het, naamlik: Op die dorpsgrond van Jísreël sal die honde die vlees van Isébel eet.
37En die lyk van Isébel sal soos mis op die land wees op die dorpsgrond van Jísreël, sodat hulle nie sal kan sê: Dit is Isébel nie.