Jeremia - Jeremiah
1 So sê die HERE: Gaan af in die huis van die koning van Juda en spreek daar hierdie woord
2 en sê: Hoor die woord van die HERE, o koning van Juda, wat sit op die troon van Dawid; jy en jou dienaars en jou volk wat deur hierdie poorte ingaan.
3 So spreek die HERE: Doen reg en geregtigheid, en red die beroofde uit die hand van die verdrukker; en doen geen skade, geen geweld aan vreemdeling, wees en weduwee nie, en vergiet geen onskuldige bloed in hierdie plek nie.
4 Want as julle hierdie saak sorgvuldig doen, sal deur die poorte van hierdie huis konings ingaan wat op die troon van Dawid sit, wat op strydwaens en op perde ry, hy en sy dienaars en sy volk.
5 Maar as julle na hierdie woorde nie luister nie, dan sweer Ek by Myself, spreek die HERE, dat hierdie huis ‘n puinhoop sal word.
6 Want so sê die HERE aangaande die huis van die koning van Juda: ‘n Gílead is jy vir My, die top van die Líbanon. Waarlik, Ek sal jou ‘n woestyn maak, stede wat nie bewoon word nie!
7 En Ek sal verwoesters teen jou heilig, elkeen met sy wapens, en hulle sal jou beste seders afkap en in die vuur gooi.
8 Dan sal baie nasies by hierdie stad verbytrek en die een aan die ander vra: Waarom het die HERE so gedoen met hierdie groot stad?
9 En hulle sal sê: Omdat hulle die verbond van die HERE hulle God verlaat het en voor ander gode hulle neergebuig en dié gedien het.
10 Ween nie oor die dooie en beklaag hom nie; ween liewer oor hom wat heengegaan het, want hy sal nie meer terugkom nie en die land van sy geboorte nie sien nie.
11 Want so sê die HERE aangaande Sallum, die seun van Josía, die koning van Juda, wat in die plek van sy vader Josía geregeer het, wat uit hierdie plek uitgegaan het: Hy sal daar nie meer terugkom nie;
12 want in die plek waarheen hulle hom as gevangene weggevoer het, sal hy sterwe, en hierdie land sal hy nie meer sien nie.
13 Wee hom wat sy huis bou met ongeregtigheid en sy dakkamers met onreg; wat sy naaste laat werk vir niks en hom sy loon nie gee nie;
14 wat sê: Ek sal vir my ‘n groot huis bou en ruim dakkamers—en hy bou vir hom sy vensters in; en hy oordek dit met sederhout en bestryk dit met rooiminie.
15 Is jy ‘n koning, omdat jy wedywer in sederhout? Het jou vader nie geëet en gedrink en reg en geregtigheid gedoen nie? Toe het dit goed met hom gegaan.
16 Hy het reg verskaf aan die ellendige en behoeftige; toe het dit goed gegaan. Is dit nie My erken nie? spreek die HERE.
17Maar jou oë en jou hart is net op jou onregverdige wins en op onskuldige bloed, om dit te vergiet, en op verdrukking en afpersing, om dit uit te voer.
18Daarom sê die HERE so van Jójakim, die seun van Josía, koning van Juda: Hulle sal hom nie beklaag met: Ag, my broer! of ag, suster! nie. Hulle sal hom nie beklaag met: Ag, heer! of—ag, majesteit! nie.
19Met ‘n eselsbegrafnis sal hy begrawe word—weggesleep en neergegooi ver van die poorte van Jerusalem af.
20Klim op die Líbanon en skreeu, en laat in Basan jou stem hoor, ja, skreeu van die gebergte Abárim af, want al jou minnaars is verbreek.
21Ek het met jou gespreek in jou sorgelose rus, maar jy het gesê: Ek wil nie luister nie. Dit was jou weg van jou jeug af, dat jy na my stem nie geluister het nie.
22Die wind sal al jou herders verstrooi, en jou minnaars sal in gevangenskap gaan; ja, dan sal jy beskaamd staan en in die skande kom weens al jou boosheid.
23Jy wat sit op die Líbanon, vasgenestel in die seders—hoe sal jy sug as weë oor jou kom, smart soos van een wat baar!
24So waar as Ek leef, spreek die HERE, al was Gonja, die seun van Jójakim, koning van Juda, ‘n seëlring aan my regterhand, tog sal Ek jou daar afruk,
25en Ek sal jou gee in die hand van hulle wat jou lewe soek en in die hand van hulle vir wie jy bang is, naamlik in die hand van Nebukadrésar, die koning van Babel, en in die hand van die Chaldeërs.
26En Ek sal jou wegslinger, saam met jou moeder wat jou gebaar het, na ‘n ander land waar julle nie gebore is nie, en daar sal julle sterwe.
27Maar na die land waar hulle siel na verlang om daarin terug te kom, daarheen sal hulle nie teruggaan nie.
28Is hierdie man Gonja ‘n veragte, verbryselde voorwerp, of ‘n ding waar ‘n mens geen behae in het nie? Waarom is hy en sy geslag weggeslinger en weggewerp in ‘n land wat hulle nie ken nie?
29o Land, land, land, hoor die woord van die HERE!
30So sê die HERE: Skryf hierdie man op as kinderloos, ‘n man wat nie voorspoedig sal wees in sy dae nie; want dit sal niemand van sy geslag geluk om te sit op die troon van Dawid en nog oor Juda te heers nie.