Jeremia - Jeremiah
1 Die woord wat die HERE deur die profeet Jeremia gespreek het oor Babel, oor die land van die Chaldeërs.
2 Verkondig onder die nasies en laat hoor, en steek ‘n banier op, laat hoor; verberg dit nie; sê: Babel is ingeneem, Bel staan beskaamd, Meródag is verskrik; sy afgode staan beskaamd, sy drekgode is verskrik.
3 Want ‘n volk trek teen hom op uit die Noorde; dit sal sy land ‘n woesteny maak, sodat daar geen inwoner in is nie; mense sowel as diere het gevlug, weggetrek.
4 In dié dae en in dié tyd, spreek die HERE, sal die kinders van Israel kom, hulle met die kinders van Juda saam; onder geween sal hulle voorttrek en die HERE hulle God soek.
5 Hulle sal na Sion vra; op die pad hierheen sal hulle aangesig gerig wees; hulle sal kom en by die HERE aansluit in ‘n ewige verbond wat nie vergeet sal word nie.
6 ‘n Kudde verlore skape was my volk; hulle herders het hulle laat dwaal, hulle weggevoer na die berge toe; hulle het gegaan van berg na heuwel, hulle het hul lêplek vergeet.
7 Almal wat hulle kry, het hulle opgeëet; en hulle teëstanders het gesê: Ons maak ons nie skuldig nie, omdat hulle gesondig het teen die HERE, die Woning van geregtigheid en die Verwagting van hulle vaders, die HERE.
8 Vlug uit Babel, en gaan uit die land van die Chaldeërs, en wees soos bokke voor die trop kleinvee uit!
9 Want kyk, Ek verwek en laat teen Babel optrek ‘n menigte van groot nasies uit die Noordland; dié sal hulle teen hom opstel—daarvandaan sal hy ingeneem word; hulle pyle sal wees soos dié van ‘n voorspoedige held wat nie met leë hande terugkom nie.
10 En Chaldéa sal ‘n buit word; almal wat hom beroof, sal versadig word; spreek die HERE.
11 Al is julle verheug, al jubel julle, plunderaars van my erfenis, al huppel julle soos ‘n vers wat graan dors, en runnik julle soos die hingste—
12 julle moeder staan grootliks beskaamd; sy wat julle gebaar het, is rooi van skaamte. Kyk, sy is die agterste van die nasies, ‘n woestyn, ‘n dor land en ‘n wildernis.
13 Weens die toorn van die HERE sal dit nie bewoon word nie, maar geheel en al ‘n wildernis wees; elkeen wat by Babel verbygaan, sal verbaas wees en spot oor al sy plae.
14 Stel julle op teen Babel rondom, julle almal wat die boog span! Beskiet hom, spaar die pyle nie! Want hy het teen die HERE gesondig.
15 Juig oor hom rondom—hy het hom oorgegee, sy pilare het geval, sy mure is afgebreek; want dit is die wraak van die HERE; wreek julle op hom, doen aan hom soos hy gedoen het!
16 Roei uit Babel uit die saaier en die wat die sekel hanteer in die oestyd; laat hulle vanweë die verdrukkende swaard elkeen na sy volk omdraai en elkeen na sy land vlug!
17Israel is ‘n rondgejaagde skaap wat die leeus weggedrywe het; eers het die koning van Assur hom opgeëet, en nou ten laaste het Nebukadrésar, die koning van Babel, sy gebeente afgeknaag.
18Daarom, so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek doen besoeking oor die koning van Babel en oor sy land, soos Ek besoeking gedoen het oor die koning van Assur.
19En Ek sal Israel na sy weiveld terugbring, en hy sal wei op Karmel en in Basan; en sy siel sal op die gebergte van Efraim en in Gílead versadig word.
20In dié dae en in dié tyd, spreek die HERE, sal die ongeregtigheid van Israel gesoek word, maar dit sal daar nie wees nie; en die sondes van Juda, maar hulle sal nie gevind word nie; want Ek sal vergifnis skenk aan diegene wat Ek laat oorbly.
21Teen die land Meratáim, trek daarteen op en teen die inwoners van Pekod! Verwoes en tref met die banvloek agter hulle, spreek die HERE, en doen net soos Ek jou beveel het.
22Daar is oorlogsgeskreeu in die land en ‘n groot verbreking.
23Hoe is die hamer van die hele aarde afgekap en verbreek! Hoe het Babel geword ‘n voorwerp van verbasing onder die nasies!
24Ek het vir jou ‘n strik gespan, en jy is ook gevang, o Babel, sonder dat jy dit geweet het; jy is betrap en ook gegryp, omdat jy jou teen die HERE in die stryd begeef het.
25Die HERE het sy skatkamer oopgemaak en die werktuie van sy grimmigheid uitgebring; want ‘n werk is dit wat die Here HERE van die leërskare te doen het in die land van die Chaldeërs.
26Kom aan teen hom van alle kante, maak oop sy voorraadskure, stapel hom op soos koringmiede, en tref hom met die banvloek! Hy moet geen oorblyfsel hê nie.
27Slaan dood al sy jong stiere, laat hulle afgaan om geslag te word. Wee hulle, want hulle dag het gekom, die tyd van hulle besoeking.
28Hoor! Vlugtelinge en mense wat vrygeraak het uit die land van Babel, om in Sion te verkondig die wraak van die HERE onse God, die wraak van sy tempel.
29Roep teen Babel skutters op, almal wat die boog span; slaan laer op rondom teen hom, laat daar geen ontkoming wees nie! Vergeld hom na sy werk, doen met hom net soos hy gedoen het, want hy was vermetel teen die HERE, teen die Heilige van Israel.
30Daarom sal sy jongmanne val op sy pleine en al sy krygsmanne in dié dag omkom, spreek die HERE.
31Kyk, Ek het dit teen jou, o vermetele, spreek die Here HERE van die leërskare; want jou dag het gekom, die tyd dat Ek oor jou besoeking sal doen.
32Dan sal die vermetele struikel en val, en daar sal niemand wees wat hom optel nie; en Ek sal ‘n vuur aansteek in sy stede, en dit sal sy hele omgewing verteer.
33So sê die HERE van die leërskare: Die kinders van Israel en die kinders van Juda is saam verdruk; en almal wat hulle as gevangenes weggevoer het, hou hulle vas, weier om hulle te laat trek.
34Maar hulle Verlosser is sterk, HERE van die leërskare is sy Naam; Hy sal hulle saak sekerlik verdedig, om die aarde rus te gee en die inwoners van Babel in onrus te bring.
35Die swaard oor die Chaldeërs, spreek die HERE, en oor die inwoners van Babel en oor sy vorste en oor sy wyse manne!
36Die swaard oor die grootpraters, dat hulle dwaas kan word! Die swaard oor sy helde, dat hulle verskrik kan word!
37Die swaard oor sy perde en sy strydwaens en oor die hele gemengde bevolking wat daar binne-in is, dat hulle vroue kan word! Die swaard oor sy skatte, dat hulle geplunder kan word!
38Droogte oor sy waters, dat hulle kan uitdroog! Want dit is ‘n land van gesnede beelde, en deur die skrikgestaltes is hulle waansinnig.
39Daarom sal daar boskatte saam met wildehonde bly; ook sal daar volstruise in bly; ‘n mens sal daar in ewigheid nie meer bly nie, en dit sal nie bewoon word van geslag tot geslag nie.
40Soos God Sodom en Gomorra met hulle bure omgekeer het, spreek die HERE, sal daar niemand woon nie, en geen mensekind daar vertoef nie.
41Kyk, daar kom ‘n volk uit die Noorde, en ‘n groot nasie en magtige konings word opgewek uit die agterhoeke van die aarde.
42Boog en lans hanteer hulle; hulle is wreed en sonder barmhartigheid; hulle geluid bruis soos die see, en hulle ry op perde, gewapend soos ‘n man vir die oorlog, teen jou, o dogter van Babel!
43Die koning van Babel het die gerug van hulle gehoor, en sy hande het slap geword; benoudheid het hom aangegryp, smart soos van een wat baar.
44Kyk, soos ‘n leeu uit die pronkbosse van die Jordaan sal daar een optrek teen die vaste woning; want in ‘n oomblik sal Ek hulle daaruit wegjaag, en hom wat uitgekies is, sal Ek daaroor aanstel. Want wie is soos Ek? En wie sal My dagvaar? En wie is tog ‘n herder wat voor my aangesig kan standhou?
45Daarom, hoor die raadsbesluit van die HERE wat Hy teen Babel geneem en sy planne wat Hy teen die land van die Chaldeërs beraam het: Waarlik, die kleinstes van die kudde sal weggesleep word; waarlik, hulle weiveld sal oor hulle verslae wees.
46Van die tyding: Babel is ingeneem! bewe die aarde, en geskreeu word onder die nasies gehoor.