Job
1 Kyk, alles het my oog gesien, my oor gehoor en opgemerk.
2 Wat julle weet, weet ek ook: ek staan nie vir julle terug nie.
3 Maar ék sal met die Almagtige spreek, en ek verlang om te pleit by God.
4 Maar julle pleister met leuens, kwaksalwers is julle almal.
5 Ag, as julle maar heeltemal sou swyg—dan sou dit vir julle wysheid wees!
6 Hoor tog na my verantwoording, en luister na die aanvalle van my lippe.
7 Wil julle, tot verdediging van God, onreg spreek en ten behoewe van Hom bedrog laat hoor?
8 Wil julle vir Hom partydig wees? Of wil julle vir God pleit?
9 Sal dit goed wees as Hy julle ondersoek? Of wil julle Hom bedrieg soos ‘n mens bedrieg word?
10 Hy sal julle sekerlik straf as julle in die geheim partydig is.
11 Sal sy hoogheid julle nie verskrik nie, en die skrik vir Hom julle nie oorval nie?
12 Julle kernspreuke is spreuke van as, julle skanse word skanse van klei.
13 Laat my met rus; dan wil ék spreek; laat dan oor my kom wat wil.
14 Waarom sou ek my vlees in my tande neem en my lewe neerlê in my hand?
15 Kyk, al wil Hy my ombring—ek hoop op Hom; ek sal tog my wandel voor sy aangesig bepleit.
16 Ook is dit my tot heil dat ‘n goddelose voor sy aangesig nie sal kom nie.
17Luister goed na my rede en gee gehoor aan my verklaring.
18Kyk tog, ek dra die regsaak voor; ek weet dat ék reg sal hê.
19Wie durf my dan bestry? Ja, dan sou ek swyg en sterwe.
20Moet my net twee dinge nie aandoen nie, dan sal ek my vir u aangesig nie verberg nie:
21trek u hand weg van my af, en laat die skrik vir U my nie beangstig nie.
22Klaag dan maar aan, en ék sal antwoord; of ek sal spreek, en gee U my antwoord.
23Hoeveel is my ongeregtighede en sondes; maak my my oortreding en sonde bekend.
24Waarom verberg U u aangesig en hou my vir ‘n vyand van U?
25Wil U ‘n verwaaide blaar skrik aanja en die droë stoppel agtervolg,
26dat U bitter dinge oor my beskik en my die ongeregtighede van my jeug laat erwe,
27en dat U my voete in die blok sit en al my paaie bewaak? U trek vir U ‘n streep om die sole van my voete;
28en dít iemand wat verval soos hout wat weggevreet is, soos ‘n kleed wat die mot verteer.