Job
1 Maar Job het geantwoord en gesê:
2 Waarlik, ek weet dat dit so is; en hoe kan ‘n mens regverdig wees by God?
3 As hy sou begeer om met Hom te twis, nie een uit duisend sal hy Hom kan antwoord nie.
4 Hy is wys van hart en sterk van krag; wie was hardnekkig teen Hom en het ongestraf gebly?
5 Hy wat berge versit sonder dat hulle dit merk; wat hulle omkeer in sy toorn;
6 wat die aarde laat sidder uit sy plek, sodat sy pilare dril;
7 wat bevel gee aan die son, en hy gaan nie op nie, en die sterre agter ‘n seël wegsluit;
8 wat alleen die hemel uitspan en stap op die golwe van die see;
9 wat die Beer gemaak het, die Oríon en die Sewe-ster en die Kamers van die Suide;
10 wat groot, ondeurgrondelike dinge doen en wonders sonder getal.
11 Gaan Hy by my langs, dan sien ek Hom nie, en Hy skuif verby sonder dat ek Hom bemerk.
12 Sleep Hy weg—wie sal Hom teëhou? Wie vir Hom sê: Wat maak U?
13 God wend sy toorn nie af nie; onder Hom moet die helpers van Rahab kruip.
14 Hoeveel minder sal ék Hom kan antwoord, sal ek my woorde kan kies teenoor Hom;
15 Hom wat ek nie kan antwoord nie, al was ek regverdig: ek kan my regter net om genade smeek!
16 As ek dagvaar en Hy my antwoord, glo ek nie dat Hy na my stem sal luister nie.
17Hy wat my deur ‘n stormwind sou vernietig en my wonde sonder oorsaak sou vermeerder;
18my nie sou toelaat om asem te skep nie, maar my sou versadig met bitterhede.
19Kom dit aan op die krag van die sterkste—hier is Ek! En kom dit op reg aan—wie kan My dagvaar?
20Al was ek regverdig, my eie mond sou my veroordeel; al was ek onskuldig, Hy sou my as ‘n verkeerde reken.
21Vroom is ek! Ek gee niks om myself nie: ek verfoei my lewe!
22Dit is net eenders—daarom sê ek: Die vrome en die goddelose vernietig Hy.
23As die gésel skielik doodmaak, spot Hy met die vertwyfeling van die onskuldiges.
24Die aarde is aan die mag van die goddelose oorgelewer, die gesig van die regters bind Hy toe. Is dit nie Hy nie, wie dan anders?
25Ja my dae was gouer as ‘n hardloper; hulle het weggevlug sonder om voorspoed te sien.
26Hulle het verbygegly soos skepe van biesies, soos ‘n arend wat neerskiet op sy prooi.
27As ek sê: Ek wil my geklaag vergeet, my droewige gesig laat vaar en vrolik word,
28dan is ek al bang vir al my smarte: ek weet dat U my nie sal vryspreek nie.
29Ek sal tog skuldig wees—waarom sal ek my dan tevergeefs afmat?
30Al was ek my met sneeu en reinig ek my hande met loog,
31dan sou U my in ‘n poel indompel, sodat my klere van my ‘n afsku kry.
32Want Hy is nie ‘n man soos ek, dat ek Hom sou kan antwoord, dat ons saam na die gereg sou kan gaan nie.
33Daar is geen skeidsregter tussen ons wat sy hand op ons twee kan lê nie.
34Laat Hy sy roede van my wegneem, en laat sy verskrikking my nie beangstig nie;
35dan wil ek spreek sonder dat ek vir Hom bevrees is; want só is dit met my nie gesteld nie.