Job
1 Toe het Élifas, die Temaniet, geantwoord en gesê:
2 Sal ‘n wyse man met winderige wetenskap antwoord gee en sy buik vul met oostewind—
3 deur te pleit met woorde wat nie baat en met beweringe waarmee hy niks uitrig nie?
4 Ja, jy breek die Godsvrees af en verstoor die stille oordenking voor die aangesig van God.
5 Want jou ongeregtigheid gee onderrig aan jou mond, en jy kies die taal van die listiges.
6 Jou eie mond veroordeel jou, en nie ek nie; ja, jou eie lippe getuig teen jou.
7 Is jy die eerste as mens gebore en voor die heuwels in die wêreld gebring?
8 Het jy in die raad van God afgeluister en die wysheid na jou toe getrek?
9 Wat weet jy wat ons nie weet nie? Wat verstaan jy wat in ons nie is nie?
10 Ook is daar grys hare, ook bejaardes onder ons, ryker in dae as jou vader.
11 Is die vertroostinge van God vir jou te min, en ‘n woord met sagtheid jou toegespreek?
12 Waarom sleep jou hart jou weg? En waarom flikker jou oë so—
13 dat jy jou toorn rig teen God en sulke woorde uit jou mond laat uitgaan?
14 Wat is die mens, dat hy rein sou wees? En hy wat uit ‘n vrou gebore is, dat hy regverdig sou wees?
15 Kyk, in sy heiliges stel Hy geen vertroue nie; ja, die hemele is nie rein in sy oë nie;
16 hoeveel minder die afskuwelike en ontaarde, die mens wat onreg drink soos water!
17Ek wil jou inlig, luister na my; en wat ek gesien het, wil ek vertel;
18wat die wyse manne verkondig sonder om iets te verberg, van hulle vaders af oorgelewer;
19aan hulle alleen was die land gegee, en geen vreemdeling het nog onder hulle deurgetrek nie.
20Al sy dae leef die goddelose in angs, ja, al die jare deur wat vir die tiran bepaal is.
21Skrikgeluide is in sy ore; in volle vrede oorval die verwoester hom.
22Hy glo nie dat hy uit die duisternis sal terugkeer nie; en hy is bestemd vir die swaard.
23Hy dwaal rond en soek brood. Waar is dit? Hy weet dat gereed is, ophande, die dag van duisternis.
24Benoudheid en angs verskrik hom; dit oorweldig hom soos ‘n koning wat gereed staan vir die aanval,
25omdat hy sy hand uitgesteek het teen God en die Almagtige getrotseer het
26(hy het Hom stormgeloop met uitgerekte nek, met die dik bulte van sy skilde);
27omdat hy sy gesig met sy vet oordek en ‘n vetlaag op sy heupe gevorm het,
28en verdelgde stede bewoon het, huise wat nie bewoon moes word nie, wat bestem was om puinhope te bly.
29Hy bly nie ryk en sy vermoë hou nie stand nie, en hulle besitting buig nie soos koringare na die aarde toe nie.
30Hy ontvlug nie die duisternis nie, die vlam laat sy spruit verdroog, en hy vergaan deur die geblaas van die mond van God.
31Laat hom nie vertrou op nietigheid nie—hy kom bedroë uit! —want nietigheid sal sy vergelding wees.
32Voor sy tyd word dit vervul, en sy palmtak bly nie meer groen nie.
33Hy skud sy onryp druiwe af soos ‘n wingerdstok en gooi sy bloeisel af soos ‘n olyfboom.
34Want die bende van die goddelose is onvrugbaar, en vuur verteer die tente van omkopery.
35Hulle is swanger van moeite en baar onheil; en hulle skoot bring bedrog voort.